Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jesus gaan toe voort: “Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op ’n magtige manier begin.”

2. Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander.

3. Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie.

4. Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat.

5. Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

6. Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik.

7. Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.”

8. Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.

9. Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.”

10. Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken.

11. Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?”

Lees volledige hoofstuk Markus 9