Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op ’n dag het daar Fariseërs en sekere skrifkenners van Jerusalem af opgedaag om Jesus te konfronteer.

2. Hulle het agtergekom dat party van sy dissipels nie die gebruiklike Joodse ritueel gevolg het om hulle hande voor ete te was nie.

3. (In navolging van hulle voorvaderlike tradisie eet die Jode, en in besonder die Fariseërs, nie voordat hulle hulle hande deeglik gewas het nie.

4. Net so eet hulle niks wat van die mark af kom as hulle nie eers hulle hande gewas het nie. Daar is ook nog baie ander tradisies waaraan hulle vashou – dinge soos die seremoniële reiniging van drinkbekers, kruike, bakke en eetbankies.)

5. Die Fariseërs en skrifkenners vra Jesus toe: “Waarom volg jou dissipels nie die tradisie van ons voorvaders nie? Hulle eet dan sonder om vooraf hulle hande seremonieel te was.”

6. Hy het hulle geantwoord: “Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het dit raak gestel toe hy van julle geskryf het: ‘Hierdie volk eer My met hulle lippe,maar hulle hartis ver van My af.

7. Hulle godsdiens is blote skyn,want hulle hou menslike dogmasvoor as wette van God.’

8. “Julle ignoreer God se opdrag en hou ten koste daarvan aan menslike tradisies vas.”

9. Hy sê toe weer vir hulle: “Julle verstaan die fyn kuns om God se opdrag opsy te skuif sodat julle julle tradisie kan handhaaf!

10. Moses het byvoorbeeld vir julle hierdie opdrag van God gegee: ‘Behandel jou ouers met respek,’ en: ‘Iemand wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.’

11. Julle sê egter dit is heeltemal in orde as jy vir jou ouers sê: ‘Jammer, ek kan Pa en Ma nie help nie. Ek het alles waarmee ek vir Pa en Ma kon gehelp het, reeds aan die Here toegewy.’

12. “So veroorsaak julle dat hy sy ouers heeltemal verwaarloos

13. en verbreek julle God se opdrag ten gunste van julle tradisie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is baie meer.”

14. Daarna roep Jesus die skare weer na Hom toe en sê: “Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.

15. Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou uitgaan, dít is wat jou onrein maak.”

17. Toe het Jesus in ’n huis ingegaan om van die skare weg te kom. Daarna vra sy dissipels Hom uit na die bedoeling van sy stelling.

Lees volledige hoofstuk Markus 7