Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:32-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. Hulle het toe per skuit na ’n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees.

33. Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag.

34. Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig.

35. Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al.

36. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.”

37. Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.” Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”

38. Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”

39. Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit.

40. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit.

41. Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel.

42. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het.

43. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel.

44. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!

45. Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur.

46. Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid.

Lees volledige hoofstuk Markus 6