Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:29-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.”

30. “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig?

31. Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is,

32. maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.”

33. Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan.

34. Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik.

35. Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36. Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus – Hy was immers alreeds in die skuit – sommer net so saamgeneem (alhoewel daar ander skuite agternagekom het).

37. Daar het ’n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het.

38. Jesus het agter in die skuit gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?”

39. Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom.

40. Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?”

41. Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”

Lees volledige hoofstuk Markus 4