Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak.

11. Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!”

12. Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie.

13. Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom.

14. Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek,

15. en om met volmag duiwels uit te dryf.

16. Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het: Simon (Jesus het sy naam verander na Petrus),

17. Jakobus en Johannes (die seuns van Sebedeus, maar Jesus het hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gegee),

18. Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (die seun van Alfeus), Taddeus, Simon (die Yweraar),

19. Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het).

20. Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie.

21. Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.”

22. Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie baasduiwel dat hy die bose geeste uitdryf.”

Lees volledige hoofstuk Markus 3