Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:58-67 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

58. “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’”

59. Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie.

60. Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?”

61. Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?”

62. Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is, en julle sal vir My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand vanGod, die Magtige, en hoe Ek terugkom met die wolke van die hemel.”

63. Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig?

64. Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.”

65. Sommige het op Hom begin spoeg en Hom geblinddoek. Daarna het hulle Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n slag!” Selfs die dienspersoneel het Hom in die gesig geklap toe hulle Hom wegvat.

66. Petrus was nog steeds onder in die binnehof. Een van die diensmeisies wat vir die hoofpriester gewerk het, kom toe daar aan

67. en sien vir Petrus waar hy hom by die vuur warm maak. Sy kyk toe stip na hom en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Nasarener.”

Lees volledige hoofstuk Markus 14