Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:50-63 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

50. Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.

51. Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang,

52. maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop.

53. Hulle het Jesus toe na die hoofpriester se woning toe gebring, waar al die priesterhoofde, die familiehoofde en die skrifkenners bymekaargekom het.

54. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg tot in die binnehof van die hoofpriester se woning. Hy het ’n ruk lank daar by die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak.

55. Binne die huis het die priesterhoofde, en trouens die hele Joodse Raad, getuienis teen Jesus probeer verkry wat tot sy doodstraf sou kon lei, maar hulle kon niks vind nie.

56. Daar het inderdaad baie gekom om vals getuienis teen Hom af te lê, maar hulle het mekaar weerspreek.

57. Daar staan toe sekere persone op wat bedrieglik die volgende teen Hom getuig:

58. “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’”

59. Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie.

60. Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?”

61. Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?”

62. Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is, en julle sal vir My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand vanGod, die Magtige, en hoe Ek terugkom met die wolke van die hemel.”

63. Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig?

Lees volledige hoofstuk Markus 14