Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:13-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was.

14. Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.

15. Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi

16. en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra.

17. Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie‘My tempel sal ’n huis van gebed wees vir al die nasies’? “Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!”

18. Die priesterhoofde en skrifkenners het hiervan gehoor en allerhande planne begin oorweeg om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was immers bang vir Hom en moes daarmee rekening hou dat die massa gaande was oor sy lering.

19. Teen die aand het Jesus en sy dissipels die stad verlaat.

20. Toe hulle die volgende oggend by die vyeboom verbygaan wat Jesus vervloek het, sien hulle dat dit tot in sy wortels verskrompel het.

21. Petrus het onthou wat die vorige dag gebeur het, en sê vir Hom: “Leermeester, die vyeboom wat U vervloek het, het werklikwaar verdor!”

22. Jesus het hulle toe geantwoord: “Julle moet geloof hê in God.

23. Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie.

24. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.

25. Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teen wie julle ’n grief koester. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.”

27. Teen hierdie tyd het hulle weer in Jerusalem aangekom. Terwyl Jesus op die tempelterrein rondbeweeg, kom die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom toe

28. met die vraag: “Watter soort gesag het jy om mense uit die tempel te jaag? Of wie het aan jou die volmag gegee om hierdie dinge te doen?”

Lees volledige hoofstuk Markus 11