Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:11-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe.

12. Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword.

13. Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was.

14. Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.

15. Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi

16. en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra.

17. Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie‘My tempel sal ’n huis van gebed wees vir al die nasies’? “Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!”

Lees volledige hoofstuk Markus 11