Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. So het hulle dan na die dorpies vertrek, die Goeie Nuus verkondig en die siekes gesond gemaak.

7. Toe Herodes Antipas hoor van Jesus se wonders, was hy bekommerd en in die war, want sommige mense het gesê: “Johannes die Doper het uit die dood opgestaan.”

8. Ander het gesê: “Dit is Elia of een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.”

9. “Vir Johannes het ek laat onthoof,” het Herodes gesê. “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke vreemde dinge hoor?” En hy het Hom te sien probeer kry.

10. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Toe is Hy stilletjies saam met hulle na die dorp Betsaida.

11. Maar die skare het uitgevind waarheen Hy op pad was en Hom gevolg. Hy het hulle verwelkom en hulle onderrig oor die koningsheerskappy van God, en dié wat siek was, gesond gemaak.

12. Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9