Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:20-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Toe vra Hy vir hulle: “Wie, sê julle, is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Messias wat deur God gestuur is!”

21. Jesus het hulle gewaarsku om dit vir niemand te vertel nie.

22. “Want Ek, die Seun van die Mens, moet baie dinge ly,” het Hy gesê. “Ek sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Ek sal doodgemaak word, maar drie dae later sal Ek uit die dood opgewek word.”

23. Toe het Hy vir die skare gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie-ek prysgee, elke dag julle kruis opneem en My volg.

24. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle dit juis bewaar.

25. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar in die proses jouself vernietig of skade aandoen?

26. As iemand skaam is vir My of my boodskap, sal Ek, die Seun van die Mens, My vir hom skaam wanneer Ek terugkeer in my heerlikheid, en die heerlikheid van my Vader en die heilige engele.

27. En Ek verseker julle dat sommige wat nou hier staan, nie sal sterf voor julle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”

28. Omtrent agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n berg toe saamgeneem om te gaan bid.

29. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het skitterend wit geword.

30. Toe het twee mans, Moses en Elia, verskyn en met Jesus begin praat.

31. Hulle was glansryk in voorkoms. Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf.

32. Petrus en die ander was baie vaak en het aan die slaap geraak. Hulle het wakker geskrik en Jesus se hemelse glans gesien en die twee mans wat by Hom staan.

33. Terwyl Moses en Elia aanstaltes begin maak om te vertrek, sê Petrus, sonder om te besef wat hy sê: “Here, dis wonderlik! Ons sal drie hutte bou – een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

34. Maar terwyl hy nog praat, kom daar ’n wolk en omvou hulle, en vrees het hulle beetgepak toe Moses en Elia in die wolk ingaan.

35. ’n Stem kom toe uit die wolk en sê: “Dit is my Seun, my Uitverkore Een. Luister na Hom.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9