Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Nie lank hierna nie het Jesus begin met ’n reis deur al die dorpe en kleiner plekkies om die Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God bekend te maak. Hy het sy twaalf dissipels saamgeneem,

2. asook ’n paar vroue wat Hy gesond gemaak het en uit wie Hy bose geeste gedryf het. Onder hulle was Maria Magdalena uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het,

3. Johanna, die vrou van Gusa, Herodes se sakebestuurder, Susanna en baie ander wat uit hulle eie middele bygedra het om Jesus en sy dissipels te onderhou.

4. Eendag het Jesus hierdie gelykenis vertel aan ’n groot skare wat uit baie dorpe gekom het om na Hom te luister:

5. “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet.

6. ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie.

7. Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het.

8. En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.” Toe Hy dit sê, roep Hy uit: “Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!”

Lees volledige hoofstuk Lukas 8