Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:13-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Jesus het sy hand uitgesteek en die man aangeraak. “Ek wil,” het Hy gesê. “Word gesond!” En net daar het sy velsiekte verdwyn.

14. Toe het Jesus hom beveel om niemand te vertel wat gebeur het nie. “Gaan reguit na die priester toe en laat hy jou ondersoek. Vat die offer saam wat deur die wet van Moses vereis word vir iemand wat van so ’n velsiekte gereinig is sodat almal die bewys van jou genesing kan sien.”

15. Tog, ten spyte van Jesus se bevele, het die berig oor sy mag selfs vinniger versprei en groot skares het gekom om Hom te hoor preek en van hulle siektes genees te word.

16. Maar Jesus het Hom gereeld in ’n verlate plek afgesonder om te bid.

17. Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk.

18. ’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom,

19. maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus.

20. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 5