Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:22-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?”

23. Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’

24. Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie.

25. “Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het.

26. Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon.

27. Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.”

28. Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend.

29. Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was. Hulle wou Hom oor die krans stoot,

30. maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.

31. Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer.

32. Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.

Lees volledige hoofstuk Lukas 4