Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jesus het vol van die Heilige Gees die Jordaanrivier verlaat. Hy is deur die Gees na die woestyn toe gelei,

2. waar die duiwel Hom vir 40 dae lank versoek het. Hy het die hele tyd niks geëet nie en aan die einde daarvan was Hy baie honger.

3. Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ’n brood.”

4. Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’”

5. Daarna het die duiwel Hom na ’n hoogte geneem en in ’n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys.

6. Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil.

7. Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.”

8. Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’”

9. Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die Seun van God is, spring hier af!

10. Want die Skrif sê:‘God sal aan sy engele opdrag gee om jou te beskerm.

11. “En: ‘hulle sal jou op die hande drasodat jy nie dalk jou voet teen ’n klip stamp nie.’”

12. Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’”

13. Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid.

14. Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword.

15. Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.

16. Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees.

17. Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê:

18. “Die Gees van die Here is op Myomdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuusvir die armes aan te kondig.Hy het My gestuur om aan te kondigdat gevangenes vrygelaat sal word,dat blindes sal sien,dat onderdruktes bevry sal wordvan hulle verdrukkers,

Lees volledige hoofstuk Lukas 4