Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Nadat hy hom daarvan vergewis het dat Jesus wel uit dié gebied afkomstig is wat onder Herodes se beheer val, het hy Jesus na Herodes toe gestuur, wat juis gedurende daardie tyd in Jerusalem was.

8. Herodes was baie opgewonde om Jesus te sien. Hy het al vir ’n lang tyd die begeerte gehad om Jesus te sien omdat hy al soveel van Hom gehoor het. Hy het ook gehoop om te sien hoe Jesus die een of ander wonderteken verrig.

9. Hy het Jesus vraag op vraag gevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.

10. Die priesterhoofde en die skrifkenners het daar gestaan en Jesus heftig beskuldig.

11. Herodes, saam met sy soldate, het Jesus met veragting bespot. Hy het Hom ’n blink kleed aangetrek en Jesus teruggestuur na Pilatus toe.

12. Op daardie dag het Herodes en Pilatus mekaar se vriende geword, want vroeër was hulle vyande.

13. Daarna het Pilatus die priesterhoofde en die volksleiers bymekaargeroep

14. en aan hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk opgesweep het om te rebelleer. Ek het hom voor julle oë ondervra en ek het geen gronde gekry vir die aanklag waarvan julle hom beskuldig nie.

15. Herodes het ook nie gronde gekry nie, want hy het hom teruggestuur na ons toe. Let ook daarop, Jesus het niks gedoen wat die doodstraf verdien nie.

16. Nadat ek hom laat gésel het, sal ek hom vrylaat.”

18. Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!”

19. (Barabbas was in die tronk gegooi oor ’n oproer in die stad en oor ’n moord.)

20. Pilatus het weer met hulle gaan redeneer omdat hy Jesus wou vrylaat,

21. maar hulle het dit bly uitkreet: “Kruisig, kruisig hom!”

Lees volledige hoofstuk Lukas 23