Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:24-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Pilatus het daarop besluit dat hulle versoek uitgevoer moes word.

25. Hy het die man wat as gevolg van ’n opstand en moord in die tronk gegooi was, vrygelaat soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy volgens hulle wens uitgelewer.

26. Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra.

27. ’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het.

28. Jesus het na hulle toe gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders

29. omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’

30. Dan sal mense aan die berge sê:‘Val op ons!’en aan die heuwels:‘Bedek ons!’

31. “As hulle hierdie dinge aan ’n groen boom doen, wat sal dan met die droë gebeur?”

32. Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word.

33. Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant.

34. Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp.

Lees volledige hoofstuk Lukas 23