Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!”

19. (Barabbas was in die tronk gegooi oor ’n oproer in die stad en oor ’n moord.)

20. Pilatus het weer met hulle gaan redeneer omdat hy Jesus wou vrylaat,

21. maar hulle het dit bly uitkreet: “Kruisig, kruisig hom!”

22. Vir die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het hierdie man gedoen? Ek het in hom geen gronde vir die doodstraf gekry nie. Ek sal hom laat gésel en dan vrylaat.”

23. Die mense het egter met oorverdowende stemme aanhou roep en eis dat Jesus gekruisig moes word. Hulle geskree het die oorhand gekry.

24. Pilatus het daarop besluit dat hulle versoek uitgevoer moes word.

25. Hy het die man wat as gevolg van ’n opstand en moord in die tronk gegooi was, vrygelaat soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy volgens hulle wens uitgelewer.

26. Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra.

27. ’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het.

28. Jesus het na hulle toe gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders

29. omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’

30. Dan sal mense aan die berge sê:‘Val op ons!’en aan die heuwels:‘Bedek ons!’

31. “As hulle hierdie dinge aan ’n groen boom doen, wat sal dan met die droë gebeur?”

32. Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word.

Lees volledige hoofstuk Lukas 23