Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:55-62 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

55. In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit.

56. ’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy: “Hý was ook saam met daardie man.”

57. Petrus het dit egter heftig ontken: “Vrou, ek ken Hom glad nie!”

58. ’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê: “Hy is mos ook uit hulle geledere.”Petrus se reaksie was: “Man, ek is beslis nie!”

59. Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig: “Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.”

60. Petrus het geantwoord: “Man, ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie!” Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ’n haan gekraai.

61. Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: “Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.”

62. En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22