Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:50-68 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

50. Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap.

51. Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak.

52. Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower?

53. Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”

54. Nadat hulle Jesus gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ’n afstand gevolg.

55. In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit.

56. ’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy: “Hý was ook saam met daardie man.”

57. Petrus het dit egter heftig ontken: “Vrou, ek ken Hom glad nie!”

58. ’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê: “Hy is mos ook uit hulle geledere.”Petrus se reaksie was: “Man, ek is beslis nie!”

59. Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig: “Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.”

60. Petrus het geantwoord: “Man, ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie!” Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ’n haan gekraai.

61. Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: “Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.”

62. En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.

63. Die soldate wat Jesus bewaak het, het Hom gekoggel en geslaan.

64. Hulle het Hom geblinddoek en aanhou sê: “Profeteer wie dit is wat jou geslaan het!”

65. Hulle het Hom bly laster deur baie ander dinge teen Hom kwyt te raak.

66. Toe die nuwe dag breek, het die volksleiers, dit is die priesterhoofde en skrifkenners, saamgekom en hulle het Jesus voor hulle Raad gebring.

67. Hulle sê toe: “As jy die Messias is, sê dit vir ons.” Hy het hulle geantwoord: “As Ek dit vir julle sou sê, sal julle My glad nie glo nie.

68. Al sou Ek ook ’n vraag stel, sal julle glad nie antwoord nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22