Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word.

7. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

8. Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het.

9. Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword,

10. maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou!

11. Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore!

12. En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!”

13. Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:

14. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”

15. Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.”

16. Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2