Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 19:38-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

38. Hulle het gesing:“Geseënd is Hy wat komin die Naam van die Here,die Koning!Vrede in die hemelen heerlikheid in die hoogste hemele!”

39. Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!”

40. Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

41. Toe Hy naderkom en die stad voor Hom sien, het Jesus oor die stad begin huil.

42. Hy het verder gesê: “As jy op hierdie oomblik maar net wou insien watter dinge vir jou vrede bring! Maar nou is dit weggesteek vir jou oë.

43. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante beleër.

44. Hulle sal jou met die grond gelykmaak en jou inwoners uitwis. En hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly nie omdat jy die beslissende tyd van God se genadige besoek aan jou verwerp het.”

45. Jesus het die tempelgebied ingegaan en die smouse begin uitjaag.

46. Hy sê vir hulle: “Daar staan geskryf: ‘My huis moet ’n huis van gebed wees,’ maar julle het dit ’n grot vir rowers gemaak.”

47. Jesus was dag na dag in die tempel besig om onderrig te gee. Die priesterhoofde en die skrifkenners en ook die ander volksleiers het ’n rede gesoek om Hom om die lewe te bring.

48. Hulle het egter niks gekry wat hulle in werking kon stel nie omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 19