Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 19:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. “Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’

19. Aan hierdie slaaf sê hy toe: ‘Jy kry beheer oor vyf stede.’

20. “Nog een het gekom en gesê: ‘Meneer, kyk, hier is u muntstuk. Ek het dit in ’n doek gaan wegsteek.

21. Ek was bang vir u omdat u ’n hardvogtige besigheidsman is. U eis wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.’

22. “Hy sê vir hom: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou nou. Jy is ’n slegte slaaf! Jy was deeglik daarvan bewus dat ek ’n hardvogtige man is wat opvra wat ek nie belê het nie, en oes waar ek nie gesaai het nie.

23. Waarom het jy nie dan maar my geld in ’n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’

24. “Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee: ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’

25. Hulle antwoord hom: ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’

26. “Ek sê vir julle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit.

27. En daardie mense wat teen my vyandig was, wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.’”

28. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe.

29. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag:

30. “Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier.

31. As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’”

32. Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 19