Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:15-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ’n harde stem vir God geloof.

16. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hierdie persoon was ’n Samaritaan.

17. Toe merk Jesus op: “Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?

18. Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?”

19. Aan hierdie man het Hy gesê: “Staan op, gaan. Jou geloof het jou gered.”

20. Toe Jesus deur die Fariseërs uitgevra is oor wanneer die koningsheerskappy van God dan begin, het Hy hulle geantwoord: “Die koningsheerskappy van God begin nie met sigbare voor-tekens nie.

21. Hulle sal nie sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koningsheerskappy van God is hier by julle.”

22. Jesus het aan sy dissipels gesê: “Daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle sal begeer om tog net één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie.

23. Hulle sal egter aan julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie.

24. Soos ’n weerligstraal flits en die hemel van die een kant na die ander kant verlig, só sal Ek, die Seun van die Mens, op daardie dag van My verskyn.

25. Eers moet Ek egter baie lyding verduur en deur die mense van hierdie geslag verwerp word.

26. “Net soos dit gebeur het gedurende die tyd van Noag, só sal dit ook gaan gedurende die tyd voor my koms as die Seun van die Mens:

27. Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig.

28. Dit het ook net so gebeur gedurende die dae van Lot: Hulle het geëet, gedrink, gesmous, geplant en gebou.

29. Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig.

30. Dit sal net so gebeur op die dag wanneer Ek as die Seun van die Mens bekendgemaak word.

31. “Op daardie dag moet dié wat op die dakstoep sit terwyl hulle besittings nog in die huis is, nie afklim om dit saam te vat nie. Net so moet dié wat op die land is, nie terugdraai na die besittings agter hulle nie.

32. Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het.

33. Almal wat hulle daarop instel om hulle lewe te beveilig, sal dit verloor, maar hulle wat dit verloor, sal dit behou.

34. “Ek verduidelik dit aan julle: Gedurende daardie nag sal daar twee mense op een bed wees; die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

Lees volledige hoofstuk Lukas 17