Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Intussen het die skares aangegroei tot duisende wat rondgemaal en mekaar vertrap het. Jesus het Hom eerstens tot sy dissipels gerig en hulle gewaarsku: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid.

2. Die tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word.

3. Wat julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!”

4. “Ek sê vir julle, my vriende, moenie bang wees vir dié wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net die liggaam doodmaak; hulle kan niks meer aan julle doen nie.

5. Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.

6. “Wat kos vyf mossies? ’n Paar sent? Tog vergeet God nie één van hulle nie.

7. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.”

8. “En Ek verseker julle hiervan: As enigiemand My openlik hier op aarde erken, sal Ek, die Seun van die Mens, daardie persoon openlik voor God se engele erken.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12