Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:5-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. “Elke keer wanneer julle ’n huis binnegaan, spreek die vredesgroet daaroor uit.

6. As dié wat daar bly, dit waardig is, sal die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na julle toe terugkom.

7. Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon.

8. “As ’n dorp julle verwelkom, eet wat ook al aan julle voorgesit word.

9. Genees die siekes wat daar woon, en sê vir hulle: ‘Die koningsheerskappy van God is nou naby julle.’

10. Maar as ’n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê:

11. ‘Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ’n openbare aankondiging van julle oordeel. Maar dit moet julle weet: die koningsheerskappy van God is naby!’

12. Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ’n dorp.

13. “Ellende wag vir julle, Gorasin en Betsaida! Want as die wonders wat Ek in julle gedoen het in die bose Tirus en Sidon gedoen was, sou hulle inwoners lankal in sakke geklee gewees het, met as op hulle koppe as teken van hulle berou. En hulle sou tot inkeer gekom het.

14. Ja, Tirus en Sidon sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as julle.

15. En julle, mense van Kapernaum, sal julle tot die hemel verhoog word? Nee, julle sal afdaal tot in die doderyk.”

16. Toe sê Hy vir die dissipels: “Enigeen wat julle boodskap ontvang, ontvang My ook. En enigeen wat julle verwerp, verwerp My. En enigeen wat My verwerp, verwerp God wat My gestuur het.”

17. Toe die 72 dissipels terugkom, het hulle met vreugde gesê: “Here, selfs die duiwels gehoorsaam ons wanneer ons u Naam gebruik!”

18. “Ja,” het Hy hulle vertel. “Ek het Satan uit die hemel sien val soos ’n weerligstraal!

Lees volledige hoofstuk Lukas 10