Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.

8. Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens.

9. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand.

10. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid.

11. Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar.

12. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien.

13. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

14. Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte,

15. want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees.

16. Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe.

17. Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 1