Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Hierdie mense is klakouse en morpotte. Hulle rig hulle lewe in volgens hulle natuurlike drange, en met die mond raak hulle arrogante dinge kwyt; hulle vlei ander ter wille van eie voordeel.

17. Julle, geliefdes, moet egter die woorde wat die apostels van ons Here Jesus Christus lank terug gesê het, goed onthou.

18. Hulle het vir julle gesê dat daar in die eindtyd spotters sal wees wat hulle lewe inrig volgens hulle eie goddelose menslike drange.

19. Dit is juis daardie mense wat verdeeldheid veroorsaak; hulle leef volgens hulle natuurlike drange en het nie die Gees in hulle nie.

20. Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees.

21. Hou julle liefdesband met God in stand. Verwag die ontferming van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe as einddoel.

22. Dié wat nog besluiteloos is, moet julle met ontferming behandel.

23. Red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Aan nog ander moet julle ontferming betoon, maar wees uiters versigtig dat julle nie ook deur hulle sondige luste besmet word nie, ja, verafsku dit.

24. Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem,

25. aan die ewige God, ons Verlosser op grond van wat Jesus Christus vir ons gedoen het, behoort die heerlikheid, die grootheid, die krag en die mag van altyd af, ook nou en vir altyd. Amen.

Lees volledige hoofstuk Judas 1