Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:19-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Het Moses dan nie die wet aan julle gegee nie? En tog voer niemand onder julle die wet uit nie. Waarom soek julle ’n geleentheid om My dood te maak?”

20. Die skare het geantwoord: “Jy is in die mag van ’n bose gees! Wie soek ’n geleentheid om jou dood te maak?”

21. Jesus het daarop reageer: “Ek het net een ding gedoen en julle almal is ontsteld.

22. Vanweë die feit dat Moses aan julle die besnydenis gegee het – eintlik is dit nie van Moses afkomstig nie, maar van die voorvaders – besny julle selfs op ’n Sabbat ’n mens.

23. As iemand op ’n Sabbat die besnydenis ontvang met die doel om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan oor My ontstoke omdat Ek op ’n Sabbat ’n hele mens gesond gemaak het?

24. Hou op oordeel net op wat julle sien; oordeel billik.”

25. Sommige van die inwoners van Jerusalem het opgemerk: “Is hy nie die persoon wat hulle soek om dood te maak nie?

26. Kyk net, hy is besig om in die openbaar te praat en hulle sê niks teen hom nie. Het die leiers nie miskien tereg tot die besef gekom dat hy die Messias is nie?

27. Maar hoe is dit moontlik? Ons weet mos waar hierdie man vandaan kom; wanneer die Messias ook al kom, weet niemand waarvandaan Hy kom nie.”

28. Terwyl Jesus besig was om in die tempel onderrig te gee, het Hy uitgeroep en gesê: “Julle ken My en julle weet waarvandaan Ek kom! Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware Een wat My gestuur het. Hom herken julle nie.

29. Ek ken Hom omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”

30. Hulle het toe pogings aangewend om Hom te arresteer, maar niemand het ’n hand op Hom gelê nie omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

31. Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.”

32. Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer.

33. Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 7