Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 5:3-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. waar daar ’n menigte gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes.

5. Onder hulle was daar ’n sekere persoon wat al 38 jaar lank siek was.

6. Jesus het hom daar sien lê en was bewus daarvan dat hy geruime tyd al siek was. Hy vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”

7. Die sieke het Jesus geantwoord: “Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom, gaan iemand anders voor my in.”

8. Jesus sê toe vir hom: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop!”

9. Onmiddellik het die man gesond geword, sy slaapmatjie opgetel en begin loop. Op daardie dag was dit die Sabbat.

10. Die Jode sê toe vir die man wat so pas gesond geword het: “Dit is ’n Sabbat; daarom mag jy nie jou slaapmatjie dra nie.”

11. Hy antwoord hulle egter: “Die man wat my gesond gemaak het, dit is hý wat vir my gesê het: ‘Tel jou slaapmatjie op en loop.’”

12. Hulle vra hom: “Wie is die persoon wat vir jou gesê het: ‘Tel jou slaapmatjie op en loop’?”

13. Die man wat gesond geword het, het nie geweet wie dit is nie, want Jesus het weggegaan omdat daar ’n groot skare op die plek saamgedrom het.

14. Hierna loop Jesus hom toe in die tempel raak en sê vir hom: “Kyk, jy is genees. Moenie verder sonde gaan doen nie sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

15. Die man het toe vir die Jode gaan vertel dat Jesus die Een is wat hom gesond gemaak het.

16. Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het.

17. Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.”

18. Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel.

19. Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so.

Lees volledige hoofstuk Johannes 5