Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Bring van die vis wat julle so pas gevang het.”

11. Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie.

12. Jesus het hulle uitgenooi: “Kom kry ontbyt.” Nie een van sy dissipels het dit gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het net geweet dat dit die Here is.

13. Jesus het nadergekom, die brood geneem en aan hulle uitgedeel, net so ook die vis.

14. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

15. Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?”Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.”

16. Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus.Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.”

17. ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape.

18. Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.”

19. Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik.Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!”

20. Toe Petrus omdraai, sien hy dat die lieflingdissipel Jesus volg. Dit is hy wat by die paasete tot baie na aan Jesus se bors oorgeleun en gevra het: “Here, wie is die een wat U gaan uitlewer?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 21