Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak.

19. Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense.

20. Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie.

21. Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22. Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?”

23. Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?”

24. Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur.

25. Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê:“Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?”Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26. Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?”

27. Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai.

28. Daarop het hulle Jesus van Kajafas af na die hoofkwartier van die Romeinse goewerneur gebring. Dit was vroegoggend. Self het hulle nie ingegaan na die hoofkwartier nie sodat hulle nie onrein sou word nie, met die oog daarop om die Paasfees te kan vier.

29. Pilatus het buitentoe na hulle gestap en gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?”

30. Hulle antwoord was: “As hy nie ’n misdaad gepleeg het nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31. Pilatus sê toe vir hulle: “Neem hom en gaan oordeel hom volgens julle eie wet.”Die Jode het egter vir hom gesê: “Ons word nie toegelaat om enigiemand tereg te stel nie.”

32. Dit het só plaasgevind sodat die woorde van Jesus vervul sou word toe Hy gesinspeel het op watter vorm van dood Hy sou sterf.

Lees volledige hoofstuk Johannes 18