Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:16-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Hoe waar is dit tog nie: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie en ’n gestuurde ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.

17. As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen.”

18. “Ek praat nie van julle almal nie. Ek weet goed wie Ek uitgesoek het. Die Skrif moet egter in vervulling gaan: ‘Die een wat van my brood geniet, het teen My gedraai.’

19. Ek maak julle nou al daarop bedag, nog voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit ook al gebeur dat Ek is wat Ek is.

20. Ek verseker julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang ook vir Hom wat My gestuur het.”

21. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy erg ontsteld geword en openlik verklaar: “Ek verseker julle, een van julle wat hier is, gaan My uitlewer.”

22. Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker oor wie Hy bedoel.

23. Een van Jesus se dissipels het langs Hom aan tafel aangelê – die lieflingdissipel.

24. Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit is van wie Jesus praat.

25. Hy het toe agteroor geleun tot na aan Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?”

26. Jesus reageer daarop: “Dit is dié een vir wie Ek ’n stukkie brood in die sous sal doop en vir hom gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, doop dit in die sous en gee dit aan Judas, seun van Simon Iskariot.

27. Ná die stukkie brood het Satan van hom besit geneem. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy doen, moet jy gou afhandel!”

28. Niemand wat aan tafel was, het geweet om watter rede Hy dit vir Judas gesê het nie.

29. Sommige het inderdaad gedink, terwyl Judas die beursie dra, dat Jesus vir hom gesê het: “Gaan koop wat ons nodig het vir die paasete,” of dat hy soos gebruiklik iets aan die armes moes gaan gee.

30. Net nadat Judas die stukkie brood aanvaar het, het hy dadelik vertrek. Dit was nag.

31. Toe Judas vertrek het, merk Jesus op: “Nou is Ek, die Seun van die Mens, verheerlik, en God is deur My verheerlik.

32. As God deur My verheerlik is, sal God self My ook verheerlik; en Hy sal My binnekort verheerlik.

33. Kinders, Ek is nog net vir ’n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou weer vir julle: Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.

34. Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê.

Lees volledige hoofstuk Johannes 13