Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.”

24. Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.”

25. Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.

26. Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?”

27. Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.”

28. Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster Maria gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29. Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan.

30. Jesus het toe nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Marta Hom ontmoet het.

31. Die Jode wat saam met Maria in die huis was om met haar te simpatiseer, het gesien dat sy so vinnig opstaan en uitgaan. Hulle het haar gevolg omdat hulle gedink het sy is op pad graf toe om daar te gaan treur.

32. Toe Maria aankom waar Jesus nog was, en sy Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie!”

33. Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld.

34. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 11