Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 13:8-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!

9. Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. Dit is goed om deur God se genade versterk te word en nie deur die nakoming van kosvoorskrifte, wat in elk geval vir dié wat dit nagekom het, niks gebaat het nie.

10. Ons het ’n altaar om van te eet; dis ’n altaar waarvan die priesters in die aardse verbondstent nie die reg het om te eet nie.

11. Die hoofpriester bring die bloed van die offerdiere in die Allerheiligste in om as ’n offer vir die sonde te dien, maar hulle karkasse word buitekant die laer verbrand.

12. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om sy volk met sy eie bloed aan God toe te wy.

13. Kom ons gaan dan uit na Hom toe buitekant die laer en ons dra saam aan die smaad wat Hy moes verduur.

14. Want ons het hier geen blywende stad nie; ons hunker na die komende stad van God.

15. Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ’n voortdurende offer van lofprysing aan God – ’n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely.

16. Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak.

17. Luister na julle voorgangers en doen wat hulle aan julle opdra. Hulle taak is om te waak oor julle geestelike lewe, want hulle moet aan God verslag doen. Help hulle om dit met blydskap te kan doen en nie met ’n beswaarde gemoed nie. Dít sal sekerlik vir julle geen voordeel inhou nie.

18. Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 13