Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:12-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop.

13. Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het.

14. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het, het hulle Petrus en Johannes daarheen afgevaardig.

15. Toe hulle daar aankom, het hulle vir die nuwe gelowiges gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang.

16. Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop.

17. Petrus en Johannes het toe hulle hande op hierdie gelowiges gesit, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18. Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle sit, wou hy hierdie mag koop.

19. “Gee my ook hierdie mag,” het hy gesê, “sodat elkeen op wie ek my hande sit, die Heilige Gees kan ontvang!”

20. Petrus het hom egter geantwoord: “Mag jou geld saam met jou vernietig word omdat jy dink dat dié gawe van God gekóóp kan word!

21. Hier is nie plek vir jou nie, want voor God is jou hart nie reg nie.

22. “Bekeer jou van hierdie boosheid van jou en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe.

23. Ek kan sien jy is vol bitterheid en deur sonde geboei.”

24. “Bid júlle tog vir my tot die Here,” het Simon uitgeroep, “dat hierdie verskriklike dinge nie met my gebeur nie!”

25. Nadat Petrus en Johannes kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here in Samaria verkondig het, het hulle na Jerusalem toe teruggegaan. Op pad het hulle die evangelie ook in baie Samaritaanse dorpies verkondig.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8