Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:45-60 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

45. Jare later, toe Josua die gevegte aangevoer het teen die volke wat God uit die land verdryf het, het hulle die tabernakel saamgeneem na hulle nuwe land toe. Daar is dit gebruik tot in die tyd van koning Dawid.

46. “Dawid het God se genade ervaar, en het gevra vir die voorreg om ’n tempel vir die huis van Jakob te bou.

47. Dit was egter Salomo wat die tempel vir God gebou het.

48. Die Allerhoogste woon egter nie in mensgemaakte plekke nie. Soos die profeet dit stel:

49. ‘Die hemel is my troon,en die aarde is my voetbank.Enige tempel wat julle vir My bou,skiet ver tekort,’ sê die Here.‘Kan julle ’n blyplek vir My bou?

50. ‘Het Ek nie selfal hierdie dinge gemaak nie?’

51. “Julle hardkoppiges! In julle harte is julle nie-Jode. Julle is doof vir die woord van God! Moet julle alewig die Heilige Gees weerstaan? Maar julle voorouers het dit gedoen, en julle doen dit nou ook!

52. Noem een profeet vir wie julle voorouers nie vervolg het nie! Hulle het selfs dié doodgemaak wat die koms van die Regverdige voorspel het – die Messias wat julle uitgelewer en vermoor het.

53. Júlle het die wet van God nié uitgeleef nie, alhoewel julle dit deur bemiddeling van engele ontvang het.”

54. Die Joodse leiers was woedend oor Stefanus se aanklag, en hulle het hulle woede gewys.

55. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het aanhou opkyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien. Hy het Jesus in die regeerposisie reg langs God sien staan.

56. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel óóp en die Seun van die Mens in die regeerposisie reg langs God staan!”

57. Toe het hulle hulle ore toegedruk en hom doodgeskreeu. Soos een man het hulle op hom afgestorm.

58. Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ’n jong man met die naam Saulus neergesit.

59. Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy gebid: “Here Jesus, ontvang my gees.”

60. Hy het op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Met hierdie woorde het hy gesterf.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7