Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:7-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Omtrent drie ure later het sy vrou ingekom, onbewus van wat gebeur het.

8. Petrus vra haar toe: “Het julle die grond vir hierdie bedrag verkoop?”“Ja,” het sy geantwoord, “dit was die bedrag.”

9. Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle twee saamgesweer om die Gees van die Here te toets? Net hier buite die deur is die jong mans wat jou man begrawe het, en hulle gaan jou ook uitdra.”

10. Onmiddellik het sy by sy voete neergeval en gesterf. Toe die jong mans inkom en sien sy is dood, het hulle haar by haar man gaan begrawe.

11. Die hele gemeente het groot geskrik en al die ander wat hiervan gehoor het, het net so geskrik.

12. Die apostels het baie tekens en wonders onder die volk gedoen. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in dié deel van die tempel wat as die Pilaargang van Salomo bekend staan.

13. Niemand anders het dit sommer gewaag om by hulle aan te sluit nie, al het almal hoë agting vir hulle gehad.

14. Al meer mense het in die Here geglo, groot getalle mans en vroue.

15. Mense het selfs siekes op draagbare en bedmatjies in die straat uitgedra sodat wanneer Petrus verbyloop, sy skaduwee dalk op party van hulle kon val.

16. Skares mense het van die dorpe rondom Jerusalem af gekom en siekes en mense gebring wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

17. Die hoofpriester en sy ondersteuners, die Sadduseërs, word toe jaloers en besluit om iets aan die saak te doen.

18. Hulle het die apostels gearresteer en in die publieke tronk gestop.

19. Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en vir hulle gesê:

20. “Gaan tempel toe en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe manier van lewe!”

21. Hulle het geluister en met dagbreek tempel toe gegaan en die mense begin onderrig.Toe het die hoofpriester en sy amptenare ’n sitting van die Joodse Raad en die leiers van Israel belê. Hulle het die apostels vir die verhoor van die tronk af laat haal.

22. Maar toe die tempelwagte by die tronk kom, was die apostels weg. Hulle het kom rapporteer:

23. “Ons het die tronk toegesluit en ten volle beveilig gekry. Die bewaarders was buite op hulle pos. Toe ons egter die tronkdeure oopmaak, was daar niemand binne nie!”

24. Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde hierdie verslag hoor, was hulle verstom en hulle het gewonder wat aangaan.

25. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan in die tempel en onderrig die mense!”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5