Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 3:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hy het opgespring, op sy voete gestaan, en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in.

9. Die hele volk het gesien hoe hy loop en gehoor hoe hy God prys.

10. Toe hulle hom eien en besef dat dit hý is wat voor die tempel by Mooipoort gesit en bedel het, was hulle heeltemal verstom.

11. Hulle het van verwondering by die Pilaargang van Salomo saamgedrom terwyl die man gesorg het dat hy bý Petrus en Johannes bly.

12. Toe Petrus dit agterkom, het hy soos volg op die mense gereageer: “Geagte Israeliete, wat is so besonders hieraan? Wat kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsdienstigheid veroorsaak het dat hierdie man kan rondstap?

13. “Dis die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders wat met hierdie daad Goddelike eer aan Jesus, sy Dienaar, gee. Dis hierdie selfde Jesus vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het, al was Pilatus se uitspraak dat Hy vrygelaat moes word.

14. Julle het hierdie heilige en opregte man verwerp, en eerder geëis dat ’n moordenaar vir julle vrygelaat word.

15. Julle het die Bron van lewe doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek! Van Hóm is óns getuies!

16. “Die Naam van Jesus het hierdie man se bene weer sterk gemaak – en julle weet hoe verlam hy was. “Geloof in die Naam van Jesus het hom heeltemal gesond laat word, hier reg voor julle oë.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 3