Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:23-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Die Messias moes ly en die eerste wees van die dooies wat opstaan. So sou Hy aan ons volk en aan die nie-Joodse nasies die lig verkondig.”

24. Terwyl hy nog só met sy verdediging besig was, skreeu Festus kliphard: “Jy’s van jou kop af, Paulus! Jou baie studies het veroorsaak dat jy van jou kop af geraak het!”

25. Maar Paulus sê: “Ek is nie van my kop af nie, hooggeagte Festus, maar die stellings wat ek maak, is waar en logies.

26. Die koning is verseker bewus van hierdie dinge, en met hom praat ek openhartig. Ek is doodseker dat niks hiervan sy aandag ontglip het nie, want dis nie iets wat êrens in ’n hoekie gebeur het nie!

27. Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo ... ”

28. Agrippa val Paulus in die rede: “Jy wil sommerso in ’n japtrap van my ’n Christen maak!”

29. “Of dit nou ’n oomblik of langer sou vat,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, gelowiges sal word soos wat ek is, maar natuurlik net sonder hierdie boeie.”

30. Toe het die koning opgestaan, en ook die goewerneur en Bernice en dié wat saam met hulle daar gesit het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26