Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:19-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. ’n Paar Jode van die provinsie Asië was wel daar. Dit is eintlik húlle wat hier voor u moes gewees het en die aanklag moes gemaak het, as hulle iets teen my sou hê!

20. Of laat hierdie mense sommer nou self sê watter misdaad die Joodse Raad gevind het toe ek voor hulle was.

21. “Of miskien was dit oor hierdie een stelling wat ek uitgeroep het toe ek in hulle midde gestaan het: ‘Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo!’”

22. Feliks, wat nogal baie van “Die Pad” geweet het, het toe die verhoor uitgestel en gesê: “Wanneer die offisier oor duisend man, Lisias, kom, sal ek oor julle saak beslis.”

23. Hy het die offisier oor honderd man beveel om Paulus nog aan te hou, maar hom spesiale behandeling te gee en sy eie mense nie te verhoed om vir hom te sorg nie.

24. Na ’n paar dae het Feliks, met sy Joodse vrou, Drusilla, gekom en vir Paulus laat haal en na hom geluister oor die geloof in Christus Jesus.

25. Paulus het met hom gepraat oor wat dit beteken om reg voor God te lewe, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Feliks het bang geword, en sy reaksie was: “Vir eers kan jy maar gaan, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”

26. Hy het die hele tyd verwag dat Paulus hom sou probeer omkoop, en daarom het hy hom heel dikwels laat haal en met hom gepraat.

27. Twee jaar later het Feliks ’n opvolger gekry, Porsius Festus. Omdat Feliks die Jode ’n guns wou bewys, het hy by sy vertrek vir Paulus in die tronk gelos.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24