Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:22-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Die offisier het hom toe dié opdrag gegee: “Moenie vir iemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het die jong man laat gaan.

23. Die offisier oor duisend man het toe twee van die offisiere oor honderd man geroep en hulle beveel: “Maak 200 soldate, 70 perderuiters en 200 spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand Sesarea toe te vertrek.

24. Sorg dat daar rydiere vir Paulus is, en bring hom veilig by goewerneur Feliks.”

25. Toe skryf hy hierdie brief:

26. Claudius Lisias skryf aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete!

27. Hierdie man is deur die Jode gearresteer en hulle was op die punt om hom te vermoor toe ek met my eenheid ingegryp het. Omdat ek agtergekom het dat hy ’n Romeinse burger is, het ek hom in beskerming geneem.

28. Ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, en het hom daarom voor hulle Raad gebring.

29. Ek het bevind dat die klag gaan oor twispunte in verband met hulle wet, verseker nie ’n klag wat die dood of tronkstraf verdien nie.

30. Toe ek verneem het daar is ’n komplot teen die man, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Sy aanklaers het ek aangesê om hulle klagte teen hom aan u voor te lê.

31. Die soldate het ooreenkomstig hulle opdrag vir Paulus gevat en hom dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.

32. Die volgende dag het hulle teruggekeer kaserne toe terwyl die berede soldate met hom Sesarea toe is.

33. Toe hulle in Sesarea aankom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en Paulus aan hom oorhandig.

34. Hy het die brief gelees en Paulus gevra van watter provinsie hy is. Hy hoor toe dat hy van Silisië af kom.

35. “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom,” het die goewerneur gesê. Toe het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes onder arres gehou word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23