Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:27-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Die sewe dae reinigingstyd was amper om toe Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel sien en ’n hele skare teen hom aanhits. Hulle het Paulus gegryp

28. en geskreeu: “Al julle Israeliete, kom help! Hier is die man wat deur sy onderrig almal oral teen ons volk en teen ons wet en teen die tempel beïnvloed. Nou het hy boonop nog Grieke hier ingebring en hierdie tempel wat aan God gewy is, ontheilig!”

29. (Hulle het kort tevore Trofimus, ’n nie-Jood van Efese, saam met Paulus in die stad gesien en verkeerdelik die afleiding gemaak dat Paulus hom in die tempel ingebring het.)

30. Die hele stad het in beroering gekom en ’n betoging het begin. Hulle het Paulus by die tempel uitgesleep, en die deure is dadelik toegesluit.

31. Hulle het hom probeer vermoor toe die offisier oor duisend man van die Romeinse garnisoen hoor dat die hele Jerusalem in oproer is.

32. Hy het onmiddellik met soldate en offisiere op hulle afgestorm. Toe die betogers die offisier oor duisend man en sy soldate sien kom, het hulle opgehou om Paulus aan te rand.

33. Die offisier het Paulus toe gearresteer en hom met twee kettings laat boei. Hy vra toe die betogers wie die man is en wat hy gedoen het.

34. Sommige het dít en ander weer dát geskreeu. Daar was só ’n rumoer dat hy nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Gevolglik het hy beveel dat Paulus kaserne toe gevat moes word.

35. Toe Paulus by die trappe kom, moes die soldate hom dra, só gewelddadig het die skare geword.

36. ’n Klomp is agterna en het geskreeu: “Weg met hom!”

37. Net voor Paulus die barakke ingebring is, sê hy vir die offisier: “Verskoon my, kan ek u iets vra?”“Ken jy tog nie Grieks nie!” reageer die offisier.

38. “Dan is jý nie die Egiptenaar wat onlangs ’n opstand gelei en met 4 000 ekstremiste die woestyn in getrek het nie?”

39. “Ek,” het Paulus geantwoord, “is ’n Jood van Tarsus in Silisië, ’n burger van ’n belangrike stad. Ek versoek u: Laat my toe om die mense toe te spreek.”

40. Die offisier het ingewillig, en Paulus het op die trappe gaan staan en met sy hand vir die mense beduie om stil te bly. Dit het doodstil geword, en hy het hulle in Aramees, hulle moedertaal, toegespreek.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21