Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:25-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. “Wat betref die gelowiges wat vroeër nie-Jode was – ons het laat weet dat ons besluit het hulle moet hulle onthou van afgodsoffers, bloed, van iets wat verwurg is, en van seksuele sondes.”

26. Paulus het toe die voorstel opgevolg en die volgende dag saam met die mans die reinigingshandeling verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee van die datum waarop die reinigingstydperk verby sou wees, en die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.

27. Die sewe dae reinigingstyd was amper om toe Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel sien en ’n hele skare teen hom aanhits. Hulle het Paulus gegryp

28. en geskreeu: “Al julle Israeliete, kom help! Hier is die man wat deur sy onderrig almal oral teen ons volk en teen ons wet en teen die tempel beïnvloed. Nou het hy boonop nog Grieke hier ingebring en hierdie tempel wat aan God gewy is, ontheilig!”

29. (Hulle het kort tevore Trofimus, ’n nie-Jood van Efese, saam met Paulus in die stad gesien en verkeerdelik die afleiding gemaak dat Paulus hom in die tempel ingebring het.)

30. Die hele stad het in beroering gekom en ’n betoging het begin. Hulle het Paulus by die tempel uitgesleep, en die deure is dadelik toegesluit.

31. Hulle het hom probeer vermoor toe die offisier oor duisend man van die Romeinse garnisoen hoor dat die hele Jerusalem in oproer is.

32. Hy het onmiddellik met soldate en offisiere op hulle afgestorm. Toe die betogers die offisier oor duisend man en sy soldate sien kom, het hulle opgehou om Paulus aan te rand.

33. Die offisier het Paulus toe gearresteer en hom met twee kettings laat boei. Hy vra toe die betogers wie die man is en wat hy gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21