Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:14-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva.

15. Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?”

16. Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het.

17. Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak.

18. Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely.

19. Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke.

20. So het die woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword.

21. Hierna het Paulus, deur die Gees gedring, besluit om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Ná ek daar was,” het hy gesê, “moet ek ook Rome sien.”

22. Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, met ’n mandaat Masedonië toe gestuur; self het hy nog ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.

23. Juis in daardie tyd was daar ’n taamlike groot opskudding oor “Die Pad”.

24. Dit het begin by ’n silwersmid met die naam Demetrius. Hy het silwer Artemistempeltjies gemaak en vir ambagsmanne ’n beduidende verdienste verskaf.

25. Hy roep toe die ambagsmanne en ander wat soortgelyke werk doen, en sê vir hulle: “Manne, julle weet dat ons voorspoed uit dié bedryf kom.

26. En nou sien en hoor julle dat hierdie Paulus ’n beduidende klomp mense van sy standpunt oortuig het, naamlik dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. En dit gebeur nie net in Efese nie, maar in byna die hele provinsie Asië!

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19