Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:21-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Hulle leer vir ons gebruike wat ons, omdat ons Romeine is, nie kan aanvaar of navolg nie.”

22. Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word.

23. Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie.

24. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem.

25. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!

27. Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak.

28. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!”

29. Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval.

30. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?”

31. Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.”

32. Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig.

33. Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense.

34. Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het.

35. Toe dit dag word, het die stadsowerhede polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense vry!”

36. Die tronkbewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die landdroste het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan dan nou vertrek; gaan in vrede.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16