Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe.

12. Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly.

13. Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was.

14. Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap.

15. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het.

16. Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ’n slavin met ’n waarsêersgees ons raakgeloop. Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring.

17. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.”

18. Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het oombliklik uit haar uitgegaan.

19. Toe haar eienaars sien dat hulle vooruitsig om geld te maak verdwyn het, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die leiers op die stadsplein gesleep.

20. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense maak moeilikheid in ons stad; hulle is Jode.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16