Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:23-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. “Uit hierdie man se nageslag het God die beloofde Verlosser vir Israel, Jesus, laat voortkom!

24. Voor sy koms het Johannes die bekeringsdoop aan die hele volk Israel verkondig.

25. En toe Johannes aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Dink julle miskien ek is die Messias? Nee, ek is nie! Die Messias kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy sandale los te maak nie.’

26. “Geagte volksgenote, seuns uit die geslag van Abraham, en julle ander wat vir God ontsag het, aan óns het God die boodskap van hierdie verlossing gestuur!

27. Die mense in Jerusalem en hulle leiers het die uitsprake van die profete in vervulling laat gaan deur Jesus tot die dood te veroordeel. Hulle het Hom nie herken nie en ook nie besef dat dit Hy is oor wie die profete geskryf het nie, al word dit elke Sabbatdag voorgelees.

28. Hulle kon geen grond vir die doodvonnis kry nie, maar nogtans het hulle Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak.

29. “Nadat hulle alles gedoen het wat oor sy lyding in die Skrif geskryf staan, het hulle Hom van die kruis afgehaal en in ’n grafkamer neergelê.

30. Maar God het Hom uit die dood opgewek!

31. Jesus het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.

32. “En nou verkondig ek en Barnabas hierdie Goeie Nuus aan julle: God het die belofte aan ons voorgeslagte waar laat word.

33. Hy het dit vir ons, hulle nageslag, vervul deur Jesus te laat opstaan. So staan dit dan ook in die tweede psalm oor Jesus geskryf:‘Jy is my Seun;Ék het jou vandag verwek.’

34. “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit tot niet gaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: ‘Ek sal vir julle die beloftes vervul wat Ek betroubaar aan Dawid toegesê het.’

35. “Daarom sê God ook elders: ‘U sal nie toelaat dat die Een wat aan U toegewy is tot niet gaan nie.’

36. Dit verwys nie na Dawid nie, want hy het tog gesterf nadat hy die mense van sy eie tyd gedien het soos God beskik het. Hy is by sy voorgeslagte begrawe, en sy liggaam hét tot niet gegaan.

37. Nee, die verwysing is na Iemand anders: Hóm het God opgewek, sý liggaam het nie tot niet gegaan nie.

38. “Daarom, geagte volksgenote, moet julle goed weet wat nou aan julle verkondig word: vergewing van sondes deur Jesus! Julle kon nie deur die wet van Moses God se vryspraak verkry nie,

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13