Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. “Die God van hierdie volk Israel het ons voorgeslag uitgekies en hulle voorspoedig gemaak toe hulle in Egipte as uitlanders gewoon het. Hy het hulle kragtig daarvandaan uitgelei.

18. Hy het hulle in die woestyn ongeveer 40 jaar lank geduldig verdra.

19. Daarna het Hy sewe nasies in Kanaän uitgewis en hulle land as erfporsie aan die Israeliete gegee.

20. Dit alles het ongeveer 450 jaar geneem. Daarna het Hy rigters voorsien tot die tyd van die profeet Samuel.

21. Toe wou hulle ’n koning hê, en God het Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam Benjamin, vir 40 jaar aan hulle gegee.

22. Nadat God hom verwyder het, het Hy Dawid vir hulle as koning voorsien. Van hom het God getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai, gekry; hy is ’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’

23. “Uit hierdie man se nageslag het God die beloofde Verlosser vir Israel, Jesus, laat voortkom!

24. Voor sy koms het Johannes die bekeringsdoop aan die hele volk Israel verkondig.

25. En toe Johannes aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Dink julle miskien ek is die Messias? Nee, ek is nie! Die Messias kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy sandale los te maak nie.’

26. “Geagte volksgenote, seuns uit die geslag van Abraham, en julle ander wat vir God ontsag het, aan óns het God die boodskap van hierdie verlossing gestuur!

27. Die mense in Jerusalem en hulle leiers het die uitsprake van die profete in vervulling laat gaan deur Jesus tot die dood te veroordeel. Hulle het Hom nie herken nie en ook nie besef dat dit Hy is oor wie die profete geskryf het nie, al word dit elke Sabbatdag voorgelees.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13