Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 12:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Hy het met sy hand vir hulle beduie om stil te raak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. “Vertel vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy gesê. Hy is buitentoe, en het elders heen vertrek.

18. Toe dit dag word, was daar groot ontsteltenis onder die soldate oor wat van Petrus geword het.

19. Herodes Agrippa het hom laat soek. Toe hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het Herodes van Judea na Sesarea toe gegaan en ’n tyd daar gebly.

20. Herodes was destyds baie kwaad vir die mense van Tirus en Sidon. Daarom het hulle ’n gesamentlike afvaardiging na hom toe gestuur met ’n vredesvoorstel omdat hulle stede vir kos van Herodes se land afhanklik was. Hulle het Blastus, die koning se kamerbediende, oorgehaal om vir hulle ’n oudiënsie by Herodes te kry.

21. Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy verhoog gaan sit en hulle in die openbaar toegespreek.

22. Die mense het hom toegejuig: “Dit is die stem van ’n god, nie van ’n mens nie!”

23. Onmiddellik het ’n engel van die Here Herodes getref omdat hy die verering aanvaar en nie aan God gegee het nie. Hy is deur wurms opgevreet en het gesterf.

24. Maar die Goeie Nuus het verder versprei en baie het tot geloof gekom.

25. Barnabas en Saulus het teruggekom nadat hulle hulle opdrag in Jerusalem voltooi het. Hulle het vir Johannes, met die noemnaam Markus, saamgeneem.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 12